Monday, July 7, 2014

Skoene Koop en Bonox Drink


Tuesday, 11 March 2014

Liewe Sussie,

Hosanna. D het sopas vir my joune van 26 Feb gebring. (Hy het dit nie langs die pad weggegooi nie.) Ek is baie bly jy het myne van 23 en 28 Jan gekry, lyk of die posaflewering  klopdisselboom gaan, al klop die disselboom maar stadig en ongereeld.

Gister was Labor Day hier by ons (nie Labour Day nie, om een of ander rede spel ons dit op Amerikaans). Ek en Dick labour nie op Labor Day nie want ons het afgetree.

Elaine is terug van haar Golden Plains musiekfees-naweek en sy rapporteer dat sy dit baie geniet het soos gewoonlik. Ek is so bly ek hoef nie uit te kamp binne hoorafstand van orkeste wat heel dag en nag speel nie. Hulle hou glo op van 6vm tot 9 vm en dan klok hulle weer in.

Ek het toe op die ou end met N aan’t Skype gekom. Sy kondig aan sy laat vandag al haar ondertande laat trek en dan gaan sy kunstande laat insit. Sy sê haar ondertande is baie knit-one-slip-one want party het afgebreek.  Sy het reeds bo 'n kunsgebit, nou kan sy bo en onder stieftande hê.

Sy sê ook hulle wag nou net op C se werks-visum want sy moet 1 April inklok by haar nuwe werk. Hulle het glo Sondag afgeskeid van C by die kerk. Sy is mos die orrelis daar en sy het ook ‘n orkes op die been gebring. Sy het al die gemeentelede wat ‘n intrument kan bespeel, uitgenooi om by die orkes aan te sluit en Nabs sê hulle is nou ‘n baie mooi orkessie. Hopelik sal die nuwe orrelis ook belangstel in die orkes, want ‘n orkes moet ‘n hoofman oor honderd hê.

N sê daar is nie ‘n NG kerk in Gabarone nie, maar wel ‘n Gereformeerde kerk waarheen hulle sal gaan. Mari is reeds ingeskryf by die plaaslike kleuterskool ook. Ek hoop F sal werk kry. Hy het mos 'n voltydse werk by Diamantveld H/skl, waar hy al hulle foto’s neem en hulle desktop publishing doen. Ek dink ek het jou dit vertel.

Ja, ek dink rolbalspelers hou toernooie. D gaan vollende week Bendigo toe vir ‘n week om daar in ‘n toernooi te gaan speel. Hd tyd vd jaar gaan hy altyd in ander dorpe meeding. Sy been is nie lekker nie, hy het op een of ander manier ‘n spier verrek. Ek het vir hom gesê hy moet vir ‘n paar dae rus vd bowls, en hy gaan wel twee dae nie speel nie en dan kyk hoe pull hy up.

Hy was vandag by Michael die Voetvent want hy het ‘n seer voet ook, maar Michael sê daar is geen salf te smeer aan sy seer voet nie, hy het arthritis in twee van sy tone. Hy het ook gekla van ‘n toonnael van verkleur is; hy het gedink hy het toonnael fungus, maar Michael sê nee, dis net 'n verdikking van die nael. Hulle het mos op die TV sulke afgryslike advertensies vir salf wat jy aan jou toonnael-fungus moet smeer, toe sien hy die verkleurde naels in die advertensie en verbeel hom hy het dit ook.

Onthou jy daar in Three Men in a Boat (Jerome K Jerome) waar Harris die mediese ensiklopedie in die hande kry en dan dink hy hy het elke kwaal in die boek, met uitsondering van Housemaid’s Knee. Ek het dit onlangs weer gelees. Dis nog steeds snaaks na 'n meer as 'n honderd jaar.

Veels geluk ook met W se verjaarsdag. Moenie vir hom jou nuwe telefoonnommer gee wanneer jy jou landlyn kry nie. Op jou selfoon kan jy mos sien wie bel, dan hoef jy nie te antwoord as dit hy is nie, laat hy deurgaan na voicemail. Ek wonder of hy na die telefoonhokkie oorkant die straat gaan om jou te bel sodat Mevrou niks moet agterkom nie.

Friday, 14 March 2014

Ek en Carla het vanoggend ons voete laat doen en agterna Japanese kos geëet langsaan Michael se praktyk by Midori, soos ons elke keer doen. Carla moet nou al 'n jaar lank 'n stywe kous dra en bloedverdunners drink omdat sy klonte in haar been kry. Ek is bly dis nie ek nie. So het elkeen sy skeet.

Gister het ek, vergesel van Margie, na Balwyn toe gery ('n halfdag te perd) om skoene te gaan koop. Ek hou van skoene genaamd Steplite. Hulle pas goed, hulle is gemaklik en van sagte leer, hulle voel soos slippertjies aan my agterpote. Duur maar ek worry nie, gemaklike skoene is belangrik. Hulle is mooi ook, lyk nie soos oumens-skoene nie.

Ek het hulle jaare gelede agtergekom, by die skoenwinkel langsaan die voetvent. Eenkant die Japanese restaurant, anderkant die skoenwinkel. Maar toe maak die skoenwinkel verlede jaar toe, en ek soek my boeglam vir Steplite. Jy kan hulle oor die internet bestel, maar ek kan nie skoene koop wat ek nie aangepas het nie, veral nie sulke duur skoene nie. Daar is skoenwinkels in Brisbane en Sydney wat hulle aanhou, maar in Melbourne soek ek verniet. Eindelik kry ek die groothandel-plek, wat Steplite invoer, in die hande. Toe ek hulle bel, sê die hulpvaardige dame hulle het 'n kleinhandel-skoenwinkel in Balwyn.

Dis toe dat ek gister perd opsaal. Ek het vir Margie saamgenooi want ek weet sy het ook issues met haar voete. (Kritzinger het nie 'n vertaling vir issues nie.) Dit was nie so erg ver nie; ek het op die nuwe snelweg geklim, wat ons halfpad geneem het, en toe het alles verder vlot verloop tot ons so driekwart-pad was. Op daardie stadium het die tremlyne ingeskop en die laaste kwart van die pad moes ons agter 'n trem aanry. Dis baie frustrerend want jy mag nie die trem verbysteek wanneer hy stilhou nie (ingeval jy passasiers omry wanneer hulle afklim), en wanneer hy in transit is, is daar nie ruimte om hom verby te steek nie. Ag nouja, 15 minute agter 'n trem aan is ook nie die end van die wêreld nie.

Daar was 'n gawe parkeerterrein net om die hoek van die winkel af en gelukkig genoeg het hulle ook 'n uitverkoping aan die gang gehad. Hulle raak van die somerskoene ontslae om plek te maak vir die winter-voorraad. Ek het 2 paar skandale gekoop, een nywieblou en een skakerings van brons en pewter. Ek kon nie juis piek en tjoes nie, want ons het opgedaag in die doodsnikke van die uitverkoping, toe daar net die twee Step-Lites in my saais oor was. Maar ek was nietemin baie tevrede, want halfprys is halfprys, en daar is niks verkeerd met die kleure nie, pas by alles. Twee vir die prys van een en ek step heerlik lite sover ek gaan. Ek sal so oor 'n maand gaan kyk wat het hulle ingekry in toe skoene vir die winter.

Woensdagaand het ek gaan eet saam met 4 ex-kollega's. Ons was by die Saigon Orchid vir Vietnamese kos. Alannah het nie lank gebly nie, sy het huis toe gegaan nog voor haar bord koud was, want sy moes die volgende oggend seweuur op die lughawe wees. Sy en haar man gaan Italië toe vir 2 maande. Die res van ons (Carla, Carol, ek en Sunanda) het nog maklik 'n uur bly sit en gesels, tot ons borde behoorlik afgekoel het.

Vanaand klok Elaine in na werk, sy sal seker moreoggend die berg gaan bestyg en hopelik sal ons in die middag fliek toe kan gaan. Ek weet nie of daar iets is om te sien nie. D gaan natuurlik bowls speel. Sondag vertrek hy na Bendigo vir 'n week-lange toernooi. Hulle span van vier gaan bly in 'n woonstel en hy het vir hom Weetbix gekoop om saam te neem vir sy ontbyt. En Bonox (dis soos Bovril) vir sy warm drankie met slaaptyd. Nou so 'n jaar of wat gelede was hy siek: grieperig, nie lus vir eet nie, ens. Ek bied toe aan om vir hom 'n koppie Bonox te maak. Jy sal sweer ek het aangebied om vir hom 'n arsenic-cocktail voor te berei. Hy drink nie sop nie! Ek maak toe maar vir myself 'n koppie Bonox, maar toe hy dit ruik, wou hy ook een hê en sedertdien is hy op die Bonox. Natuurlik sit hy nie 'n teelepelvol in die koppie nie, maar wel tweemaal soveel, en hy is te ongeduldig om te roer tot dit alles opgelos het. Daar is altyd so 'n sludge onder in sy koppie. Maar nouja, wat worry ek, dis die skottegoedwasser se besigheid.

Ek was Woensdagoggend lus om te gaan fliek, toe gaan sien ek Mr Morgan met Michael Caine in die hoofrol. Ek het nie eers voorheen daarvan gehoor nie, dis een vdaardie little low budget jobs wat die Britte so goed doen. Dit het nie in die groot komplekse gewys nie, ek het dit hier in 'n klein voorstedelike bioskopie gesien waar hulle sulke onbekende films wys. Die kaartjies is baie goedkoop, daar is altyd hordes oumense en pensioenarisse. Ek in die kluis. Ek het gehou daarvan, as dit by julle verbykom, kan jy maar gaan kyk. Hy en sy vrou het in Parys gewoon, maar toe gaan sy dood en hy voel baie eensaam tot hy 'n jong dans-onderwyseres ontmoet. Dis die storie van hulle vriendskap. Nie 'n romanse nie!

Is daardie bioskopie by Hatfield Galleries nog daar? Hulle het altyd internasionale films daar gewys. Dis waar ek al die groot Europese filmmakers ontmoet het. Ingmar Bergman,Truffaut, Resnais, Jean-Luc Goddard, Cocteau, Rosselini, noem maar op.

Nouja, Sussie, hier is ons weer aan die end van die storie. Bly heerlik en ek hoop jy het 'n gesellige week.

Menige groetnisse van huis tot huis,

Suster katrien J % C

No comments:

Post a Comment