Thursday, 29 May
2014
Liewe Sussie,
Vandag 'n brief ontvang, ged. 14 April, baie dankie. Ek hou van Boetie
wat na Bulletjies Rugby toe gaan. Hier by ons is dit natuurlik Footy en hulle
noem dit Ozkick. Al die kleintjies klok in by Ozkick op 'n Saterdagoggend, op
Footy-velde (Footy Ovals noem hulle dit) orals in die voorstede. Dogtertjies
mag ook deelneem, ek dink tot hulle elf jaar oud is.
'n Mens wonder of hulle daar in Cheetah- en Leeu-wêreld Welpies
Rugby het, en of die Sharks se kleinspan Toothy Tadpoles Rugby toe gaan? Die
nuwe Kings-span kan Prinsies Rugby hê vir die kleintjies.
D het vanoggend gesien daar sit 'n natkol onder my kar, ek is nie
seker of dit olie of water is nie, maar daar is geen rooi waarskuwings-liggies
aan as ek ry nie. Nietemin het ek my kar
ingeboek vir Maandag, dat die vent wat oor hom gaan, kan kyk wat is fout.
Ek het sopas 'n boodskap van L gekry op my Facebook Private
Messaging – sy het dit van die lughawe af gestuur met haar telefoon. (My foon
is te oud om sulke dinge te doen.)
Sadly
my mom has been rushed to hospital and the results from the brain scan she had
indicates that she has massive bleeding on the brain...Doesn't look like she's
going to make it...K & I fly out this morning to SA & D on Friday.
Shym, R (amper sê ek ontydig Oorle' R) was nie 'n sielsgenoot van my
nie, maar toe ek vir D daarvan vertel, vind ek 'n knop in my keel en moes my
bedwing om nie 'n paar trane te stort nie. Sy is familie en deel van my
geskiedenis. Ag nouja. Elaine sê: "Teenagers giggle and old people cry,
they can't help it". Sy is nie verkeerd nie, dis seker hormone!
Ek het gister 'n paar appels en pere gestowe – ek bodder nie om
hulle te skil nie, sny hulle net op. Ek sit 'n paar sultanas en droë appelkose
ook in as ek het. En naeltjies en 'n paar stukkies gemmer. Ewentwil, Paul het
my aangeraai om 'n lepelvol marmalade ook in te sit, en ek kan dit aanbeveel,
as jy dalk plan het om appels te stowe. Die marmalade gee dit 'n baie lekker
geur, maar maak dit net effens soet vir my smaak. Ek het nie 'n baie soet tand
nie. D het genoeg soet en sout tande vir ons albei.
Ek is bly jy hou van die kunsrubriek-bydraes tot die
kunsvereniging se tydskrif. Ek plaas wel elke artikel ook op my blog, en daar
kan ek soveel ruimte gebruik soos ek wil, so my blog-artikels het baie meer
prente en hulle is natuurlik ook in kleur. Ek sal jou die blog-adres gee, dis www.artothings.blogspot.com.au
'n Mens vind te laat in die lewe uit wat jy moes gedoen het. Ek
het op Univ Kunsgeskiedenis geneem, net een jaar. Ek moes dit my hoofvak gemaak
het! Ek kon by 'n museum gewerk het of 'n dosent gewees het. Ek kon ook
biblioteekwese geswot het, ek het baie daarvan gehou om by die biblioteek te
werk. Te laat vir trane deur Benjamin Bennett.
Later: Op ingewing en sommer omdat ek hier rondsit vir
kwaadgeld, vra ek vir Google (wat alles weet) of hy Te laat vir trane deur
Benjamin Bennett ken. Ja, Google ken dit, en hy vertel my sommer ook dat BB
nog baie ander boeke geskryf het, o.a. Die
Bewyse was Dodelik en Die Galgtou
Wag! Een ding moet jy sê van Benjamin Bennett: hy het geweet hoe om 'n
titel te kies vir sy boeke! Ongelukkig is hulle almal uit druk. Ek is seker
Daisy de Melcker en jou skoolvriendin Bubbles Schroeder sal op BB se spyskaart
wees.
Vrydag ... Ek lees weer Three Men in a Boat. Gepubliseer 1889, en nog steeds snaaks, en so
interessant ook. Tussen die grappige episodes vertel hy altyd 'n brokkie
geskiedenis van die dorpies langs die Thames, al die pad van Londen na Oxford. Ek
moes lag vir hierdie deel: "It is so
calm and restful, free from that fretful haste, that vehement striving, that is
every day becoming more and more the bane of nineteenth-century
life." Wat sou hy gedink het
van die 21ste eeu se fretful haste en vehement striving?
Trakteer jouself, kry Three
Men in a Boat uit die biblioteek, hy is nooit uit druk nie, en lees hom
weer. Jerome K Jerome. Ek lees anderdag
dat daar honderde eksemplare in sirkulasie was in SA tydens die Tweede
Vryheidsoorlog. Die families van die Britse soldate het vir hulle seuns/mans die
nuwe bestseller gestuur om te lees
wanneer hulle nie besig was om Boere te beveg nie. (En plase af te brand of
Mafeking te beleër nie.)
Een tyd het Elaine haar in Spanje bevind met niks om te lees nie,
en sy kom toe op 'n boekwinkel af wat drie Engelse boeke het, voorgeskrewe
boeke vir hoërskoolkinders wat Engels leer.
Sy het al drie gekoop: Three Men In A Boat, The Picture Of Dorian Gray
en Emma. Serendipity!
Sussie, nou gaan ek
myself eers in die maalstroom van fretful
haste en vehement striving werp wat die Vermont South winkelsentrum is. Ek
het niks in my spens nie, ek is Mother Hubbard. Ek as ek klaar geshop het, dan
gaan ek vir Paul en Heather ontmoet by die Chinese keffie dat ons kan yum cha
vir middagete. Ek het lanklaas 'n lekker yum cha geniet, en ek hou besonder van
die yum cha wat die East Empress aanbied, daar is altyd iets besonders wat
hulle chef optower. As die trollies verbykom, is dit altyd 'n temptasie om meer
pierinkies snoeperytjies af te laai as wat ons kan opeet! Daar is altyd net
drie goedjies op 'n pierinkie, dit lyk na min, maar op die ou end is daar
genoeg kos vir 'n regiment op die tafel. Ons los darem altyd plek vir die
piepklein melktertjies en klapper-jellietjies aan die end! As jy klaar geëet
het, tel hulle hoeveel opgestapelde leë pierinkies jy het, en jy betaal
dienooreenkomstig.
Later: Ons het toe baie lekker ge-yum cha. Ons het
sewe dissies afgelaai: daar was 1. gestoomde scallops in 'n rys-papier
omhulsel, 2. barbecue pork-pasteitjies, 3. Paul en Heather het Phoenix Claws geëet,
wat niks anders is as hoenderpote nie, maar ek is nie 'n hoender-poot fan nie.
Daar was 'n 4. dissie van eend met 'n vulsel van fyn, deurskynende
rys-vermicelli en gekapte pietersielie, daar was 5. garnale in 'n gestoomde dim
sum, daar was 6. miniatuur hoender-pasteitjies, en les bes was daar 7. die
klein melktertjies in skilferkors aan die end. Ons het nie plek gehad vir
klapperjellie nie. Ons het driekeer ons teepot laat aanvul.
Ek het pas tyding gekry vanaf Dubai. Die kind is op pad terug na
Oz, ek sal nie heeltemal rustig wees voor sy moreoggend (Saterdag) bel om aan
te kondig sy is in haar woonstel en sy gaan nou slaap nie. Die heel beste tyd
is wanneer hulle nog so klein is dat hulle nêrens gaan in hulle prêm sonder Ma
nie. As hulle eers begin skooltoe gaan, loop hulle loshande rond en begin jou
worries. My ousie Andrina het eenkeer vir my gesê: "Madam, if you've got a
husband, you've got worries. If you've got a child, you've got beeeeg
worries!" Ek sal nie waag om haar te laat agterkom ek worry nie!
Nog
later:
Nouja, weer tyding van L: Sadly Mom
passed away this morning. I was grateful to be able to see her and I believe
she waited for me...
Daar
is R nou ook tot haar vadere vergader. Shym, sy was altyd, wat ookal haar
foute, baie lojaal en ondersteunend aan haar skoonfamilie. Al die pad gery van
Jhb af na troues en begrafnisse. Ek is bly ek het elke keer die moeite gedoen
om haar vroeg in die oggend na die Roomse Gevaar toe te neem vir Mass wanneer
sy by ons tuisgegaan het hier in Melbourne. Die slag toe hulle 4 dae gebly het,
moet ek sê by die vierde oggend het ek taamlik sleepvoet halfsewe in my
modderkar geklim! Maar sy moes Mass bywoon voor brekfis, die wyn en heilige wafers
mag nie met byken-en-eiers meng in jou maag nie, dan is dit reguit hel toe met
jou. Of miskien purgatory toe, as jy net 'n weetbix geëet het. Ewentwil, ek is bly ek het aangetree en my
kant gebring vir die saligheid van haar siel, dit was baie belangrik vir R. As
sy nie, even as we speak, by die Cherubim Celestial Outfitters opgemeet word
vir haar wit jurk en vlerke nie, is dit nie my skuld nie.
Saterdagoggend
... Ek het gewag om die brief te pos tot ek kon aankondig dat Elaine veilig
terug is. Sy het pas gebel (7vm) om te sê sy is tuis en gaan nou slaap. 'n Kind
het heelpad geskree in die ry agter haar, 14 uur van Dubai tot Melbourne.
Ek:
"Oh, poor little thing!"
Elaine:
"I hope you mean me!"
Mooi
bly, Sussie, tot vollende week.
No comments:
Post a Comment